Projek Stashbag

Stashbag:

???????????????????????????????

Week 1:

’n Klomp van ons gaan ‘n sak saam hekel. Ek plaas die aanwysings hier met foto’s sodat die beginners ook kan saam hekel.

Dit gebruik nie baie wol nie en oorskiet resbietjies sal ‘n lekker bont sak maak. Katoendraad werk lekker en maak ‘n baie stewige sak.

Afkortings:


ks  = kettingsteek

gs  = glipsteek

lb  = langbeen

kb  = kortbeen

hlb  = halwe langbeen


WEEK 1:       

Bodem:

Begin met 6 ks wat met ‘n gs in die eerste ks geheg word om sirkel te vorm of maak ‘n  ‘magic circle’ om mee te begin.

Ry 1:  Maak 3 ks om te tel as eerste lb, plus nog 11 lb en heg met gs in derde ks van eerste 3 ks. Heg af (12 langbene)

Ry 2:  Begin met nuwe kleur deur dit in enige steek (nie die 3ks langbeen nie)  in die ry vas te knoop. Maak 3ks plus 1 lb in dieselfde spasie. Maak daarna 2 lb in elke lb van eerste ry. Heg met gs in 3de ks van 3ks aan die begin van die ry. Heg af. (24 langbene)

Nota: Om ‘n naatlose voorkoms te bewerkstellig, heg aan die begin van elke nuwe ry die nuwe kleur in enige langbeen van die vorige ry, verkieslik tussen twee langbene wat saam in een spasie is en nie in die 3ks nie.

Naatlose sirkels

Ry 3:  Heg nuwe kleur. 3 ks plus 1 lb in dieselfde spasie, *1lb in volgende lb, 2 lb in volgende lb.* herhaal vir die res van die ry. Heg met gs in 3ks aan die begin van die ry. Heg af.

Ry 4 : Nuwe kleur, 3ks om te tel as eerste langbeen plus 1 lb in dieselfde spasie, *1 lb in die twee volgende lb, 2 lb in die volgende lb*. Herhaal tot aan die einde van die ry.  Heg in 3de ks aan die begin van die ry en heg af.

Vanaf ry 5 tot ry 10: Soos vorige rye, behalwe dat die enkelsteke tussen die dubbelsteke in elke ry een meer word. In ry 10 sal daar dus 8 lb tussen die dubbelsteke wees. Ry 10 behoort dus altesaam 120 steke te hê.

(Indien jy ‘n groter sak wil maak, kan jy hier meer rye maak deur in elke ry meer steke by te voeg soos voorheen.)

Om die bodem ‘n netjiese rand te gee: 

Ry 11: Maak 2ks om te tel as 1ste hlb, 1 hlb in elkeen van die volgende lb (sonder om te vermeerder) tot aan die einde van die ry. Heg in 2de ks aan die begin van die ry. Moenie afheg nie.

Ry 12: Maak nou een ry hlb deur die pen deur die riffie aan die agterkant van die vorige ry se hlb te haak. So vorm ‘n duidelik rand wat die bodem van die lyf van die sak skei. Jou bodem lyk nou soos die volgende foto  en na die volgende 4 rye sal dit lyk soos die foto daar onder:

Bodem sak

???????????????????????????????

Ry 13 tot 16: Heg in elke ry ‘n nuwe kleur (elke keer op ‘n ander plek in die sirkel)  en maak 1lb in elkeen van die vorige ry se steke en nou lyk jou sak se onderkant so:

Halwe langbeenry vir rand

Dis dan week 1 van ons projek van vier weke. Lekker hekel!

Stashbag   Week 2:

Nou moet jy die lyf van jou sak beplan. Daar is geen definitiewe patroon nie – dis juis die uitdaging daarvan. Jy moet ’n buis hekel wat by die ronde bodem van jou sak aangehekel/vasgewerk kan word. (Dis die rede hoekom ek in week 1 na die aantal steke van jou vorige ry verwys het.) As jy my patroon gevolg het, behoort jy 120 steke te hê en indien jy meer rye gehad het, sal jy meer hê.  As jy dink dat jy ‘n fout gemaak het, MOENIE LOSTREK NIE!! Die presiese aantal steke maak werklik nie saak nie, want jy gaan jou sak se lyf beplan om daarby aan te pas.

As jy net strepe wil maak: Gaan eenvoudig voort met dieselfde hoeveelheid steke tot die sak die gewensde lengte het.

As jy blokkies wil invoeg:  Maak een blokkie van enige patroon van jou keuse en tel die steke aan die een sykant van die blokkie. (onthou kettingspasies tel ook as steke) Deel nou die aantal steke van die laaste ry van die bodem deur daardie getal om uit te werk hoeveel blokkies jy moet maak. As jy gelukkig is, werk dit presies uit. My blokkies se steke was 22 +1. (Die plus een is vir die spasie wat vorm waar jy die blokkies aanmekaarheg.  As jy dit nie inreken nie, sal jou ry blokkies langer wees as die omtrek van jou sirkel.) My ry blokke se steke is dus:  23X6=138 wat heeltemal na genoeg is aan die 140 van my rye. Twee steke verskil sal nie wys wanneer jy jou blok-ry aan jou bodem heg nie. As jy gelukkig is, werk joune presies uit.Blokkies 2

Ek het twee stroke van 6  gewone grannyblokkies met 5 rondtes elk gekies omdat dit vir my naastenby dieselfde mates of hoeveelheid steke as die omtrek van die bodem sou gee. Hier is my twee rye blokkies met ‘n paar rye strepe om mee af te rond bo-aan die lyf van my sak:

Sak se lyf klaar.

Die laaste twee rye het ek van kortbeentjies gemaak, want dit vorm ‘n stewiger rand wat nie so rekbaar is as as langbene nie en die heel laaste ry is  Crabstitch (agteruithekel) vir netjiese afronding.

 

Boonste Rye na blokkies

 

Jy kan egter kies om enige ander blokkies of strepe, of ‘n kombinasie van blokkies en strepe te gebruik om die buisvormige lyf van jou sak te maak. Jy kan jou strepe natuurlik interessanter maak deur verskillende steke te gebruik.

Hier is ’n klompie voorbeelde:

Streepsak

Crocheted Bags

Indien jy jou sak ’n inrygtoutjie wil gee soos hierdie laaste voorbeeld hier onder, moet jy die tweede laaste ry langbeentjies so doen: maak slegs ’n langbeentjie in elke tweede steek met ’n kettingspasie tussen-in om gate te vorm waardeur jy die toutjie kan ryg.

 Bag

Soek gerus op die internet rond vir nog idees en patrone van blokkies of strepe, of selfs vryvorm hekelwerk. Jou sak kan dus heel eenvoudig soos myne, of so gevorderd wees as wat jy verkies! Volgende week hekel ons die handvatsels en versierings en daarna voering ons die sak. As jy haastig is om jou sak te voltooi, staan dit jou vry om so te maak – solank jy dit vir ons wys!  Lekker hekel!

Stashbag    Week 3 & 4:

Nou moet jou sak afgerond word. Jy moet besluit of jy handvatsels gaan hekel of koop. Gehekelde handvatsels is maklik en natuurlik die heel goedkoopste, veral as jy jou sak net wil gebruik om jou hekelwerk in te bêre of saam te dra as jy iewers heen gaan waar jy gaan hekel.

Voering:

Vir hierdie 2 sakke van my het ek die voering so gemaak:  

·        Sny ‘n sirkel wat effens groter as die ronde bodem van die sak is uit voeringmateriaal. ‘n Maklike manier is: soek ‘n deksel of bord wat min of meer so groot as jou sak se bodem is, teken dit na op jou lap en knip dit uit.

 Om die mates van die res van die voering te bepaal:

o   Breedte: Meet dan die hoogte van jou sak, las 1 cm by vir ‘n naatjie aan die onderkant en omtrent 1 cm om om te vou aan die bokant wanneer jy dit aan die sak vasstik.

o   Lengte: Meet nou die omtrek van die sirkel om die lengte te bepaal, las by vir ‘n naattoelating

·        Sny nou ‘n reghoek met bogenoemde lengte en breedte en stik dit toe om ‘n buis te vorm vir die lyf van jou sak.  

·        Stik nou die buis aan die sirkel vas en voila! Daar het jy ‘n voering.

·        Kap die nate om sodat dit nie kan rafel nie. Druk jou voering in die sak in met die regte kant na binne.

·        Vou die ekstra 1 cm bo in, steek of ryg en stik dan die voering met sigsagsteke aan die gehekelde sak vas net onder die ry crabstitches.

Voering

Handvatsels:

Hierdie twee sakke se handvatsels is albei gehekel. Die een het twee korter handvatsels en die ander een net een langer een. Gebruik verkieslik halwe langbene daarvoor, want dit is stewig en rek minder as langbene. Om die rand van die handvatsel te verstewig en netjies af te werk, doen een ry in agteruitsteek (crabstitch) rondom. Stik die handvatsel stewig aan die hekelwerk sowel as die voering vas sodat dit gewig sal kan hanteer sonder om te rek of los te trek. As versiering kan jy ‘n mooi knoop aanwerk waar jy die handvatsels vasgestik het – of jy kan tossels en krale gebruik.

Sak 9 

Verdere Afronding:

Indien jy nie ‘n inrygtoutjie gebruik nie, kan jy nou besluit of jou sak  dalk ‘n flap benodig om dit toe te hou sodat dit nie oopgaap nie. Een van my sakke het so ‘n flap nodig gehad en ek het dit aan die agterkant vasgehekel en ‘n knoopsgat gegee sodat ek my sak behoorlik kan toemaak indien ek sou wou:

Sak 8

 Tadaa!  En daar is albei my sakke nou klaar!!

 Sak 13


 

11 thoughts on “Projek Stashbag

  1. Dankie Madelie, geniet die stashbag projek baie! Kan jy miskien volgende keer die patroon as PDF opsie ook laai? Sukkel om dit af te druk op hierdie weergawe. Dink dit is my Appelliefie wat moles maak (Apple MacBook). Sal binnekort foto stuur; ek is nou baie agter!

  2. Madelie, ek het dit nou al 4x oorgedoen. My bodem bly wobble. Dit lyk soos ‘n ballet-rokkie. Wat doen ek verkeerd?

    • Marina, steek jy jou hekelpen tussen die vorige ry se langbene in wanneer jy hekel, of druk jy dit in die kettingkies wat bokant die vorige steke vorm? As jy jou steke tussen die vorige steke indruk, veroorsaak dit onnodige spasies wat jou werk uit vorm druk.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s